Die koue wetlike skouer vir oo

Die koue wetlike skouer vir oorsese Suid-Afrikaners wat terugkom

Die Wet op Mediese Skemas het ʼn formule waarvolgens terugkerende Suid-Afrikaners boetepremies vir die res van hulle lewens van tussen 5% en 75% by mediese fondse betaal omdat hulle nie aan Suid-Afrikaanse mediese fondse behoort het nie.

Die koue wetlike skouer vir oo

doctorTo read this article about medical aid insurance for repatriate South Africans in English, click here

Daar is ʼn staatsgedrewe boodskap aan Suid-Afrikaners oorsee reg uit die Parlement: Bly weg want ons gaan julle straf as julle terugkom.

Vir Suid-Afrikaners wat na ʼn paar jaar in die buiteland hulle vliegtuigsitplekgordels losmaak en uitstap in hulle eie land wag ʼn ontnugtering in die vorm van ʼn ware Monty Python wet wat hulle vir die res van hulle lewens effektief gaan belas — die Wet op Mediese Skemas 131 van 1998.

Hierdie wet het ʼn goeie element want dit beskerm huidige lede van SA mediese fondse met laataansluitingsboetes vir mense wat wag tot hulle siek is en dan wil aansluit by ʼn fonds.

Nou die slegte kant.

Die Wet op Mediese Skemas het ʼn formule waarvolgens terugkerende Suid-Afrikaners boetepremies vir die res van hulle lewens van tussen 5% en 75% by mediese fondse betaal (kuggie en kom ons fluister die res van hierdie sin) omdat hulle nie aan Suid-Afrikaanse mediese fondse behoort het nie. Wat natuurlik onmoontlik was. SA mediese fonds gee net oorsese dekking vir 90 dae. Daarna kan jy net eenvoudig nie aan ʼn SA mediese fonds in die buiteland behoort nie. Dis so gereguleer. Dis ʼn Catch 22. Eintlik ʼn vorm van belasting. Julle wil mos dom buitelandse drosters wees.

Die Wet op Mediese Skemas het strafbande met berekende kredietjare waarop addisionele maandelikse premies betaal gaan word en wat dit ignoreer dat dit vir jou oorsee onmoontlik was om aan ʼn SA mediese fonds te behoort:

0-4 jaar:          5%

5-14 jaar:        25%

15-24 jaar:     50%

25+ jaar:         75%

Dis ʼn effens ingewikkelde berekening maar hier is ʼn voorbeeld:

Jy was ʼn lid van jou ouers se mediese fonds tot ouderdom 25, toe nie by ʼn mediese skema vir 5 jaar nie en toe by jou eie fonds vir 5 jaar waarna jy oorsee gegaan het vir 14 jaar en in Engeland lid was van Discovery se filiaalskema daar, Pruhealth. Nou keer jy terug na sonnige Suid-Afrika op die ouderdom van 49.

Die formule gee jou 4 jaar krediet as afhanklike van jou ouers (25-21 want onder 21 jaar tel nie).

Jy kry nog 5 jaar se krediet onder jou eie skema maar, jammer man, die SA Parlement het bepaal dat jou 14 jaar by enige oorsese medies skema nie tel nie, selfs nie eers Discovery Gesondheid se Britse filiaal nie. Jy moes mos aan ʼn SA fonds behoort het. Wat jy ongelukkig vir jou nie kon doen nie.

So nou het jy net nege jaar se krediet.

Maar wag dis nie al nie, en hallo Monty Python, nou vir iets heeltemal nuuts weer eens, die Einsteinformule bepaal dat jy net 5 jaar se krediet kry want, jou kredietjare begin eers van jou 35ste jaar.

En op daardie 5 jaar krediet (ten spyte van al jou jarelange lidmaatskap van fondse) val jy in die band van 5-14 jaar. Daarom sal jy vir die res van jou lewe vir jou en jou familie 25% per maand ekstra in mediese fondspremies betaal. So, waar jy en jou familie R4000 per maand sou betaal aan ʼn mediese fonds as julle tuisgebly het sal jy R12 000 per jaar addisioneel betaal met latere stygings.

Ek weet hiervan want ek was elf jaar lank lid van Discovery se Pruhealth in Brittanje en het Discovery genader via ʼn makelaar wat my later ʼn epos gestuur het dat Discovery vasstaan dat dit ʼn “government ruling” is en die boete geld. Twee ander medies skemas het dieselfde antwoorde gehad.

In wie se belang is hierdie irrasionaliteit? Die mediese fondse wen met ʼn stelsel wat baie gerieflik individue penaliseer omdat die stelsel nie die individue ooit kon bedien nie.

Hoe werk die logika? In Brittanje kan jy nie ʼn SA bestuurslisensie gebruik nie. Hoekom word terugkerendes nie beboet of belas as hulle nou na jare weer ʼn SA lisensie moet kry nie? Oorsee in die VSA kan jy nie belasting aan SARS betaal nie. Moet jy nou beboet word daarvoor as jy terugkom?

Ons leef in ʼn wêreld grotendeels sonder grense. Die kuberruim het eintlik geen grense nie maar fisies is daar ook tussen lande ʼn relatief vrye vloei van kapitaal, produkte, idees en mense wat na hulle lande terugkeer met meer ondervinding, kennis en kundigheid. Sekerlik positief.

Watter tipe regering ontmoedig die vrye vloei van mense en hulle kundigheid so diskriminerend irrasioneel? Pas dit die regering dat Suid-Afrikaners nie terugkeer nie?

Miskien moet die Wet op Mediese Skemas ʼn herbenaming kry as die Wet van Onbedoelde Gevolge want die land stoot waardevolle mense weg wat wil terugkeer.

Mediese skemas wen; die land verloor; die politici slaap.

Deur Rhynie Greeff