Khoisan in Londen

DIE ONDERWYSERES | So amper tien jaar gelede, toe ek nog ‘n ‘groenetjie’ was in Londen, het ek die ding, daai ‘tube train’ of moltrein (in suiwer Afrkaans) vir kort afstande gery – diep onder die aarde, tussen Embankment en Charing Cross!

Londen is ‘n plek wat jou sowragtiewaar kan laat lag, sug, huil en skree van blydskap of frustrasie! Die lang rit van suid-Londen na noord-Londen, of van oos-Londen na wes-London; my eie naam dus vir die globale stad is ‘Ninety Minute City’. Ek se dit in Engels, want ek kan dit nie in kort Afrikaans so goed opsom nie.

Jy weet wat ek bedoel. Nou as daar ‘n ding is, wat my sooibrand gee, dan is dit daai rooi stadige voertuig (met die onvriendelike drywer) wat ‘n ‘replacement rail service bus’ genoem word. Hy maak sy verskyning so op ‘n Saterdag, Sondag of op ‘n ‘Bank Holiday’ net wanneer die son ‘n bietjie lekker skyn na die lang donkerte en wanneer die miljoene erens wil gaan vir ‘n blaaskansie! Nou, ek het al oorweeg om ‘n helikopter te probeer om my van een punt in Londen vir so vyf myl of minder te vlieg so bo die koppe van die miljoene sodat ek darem erens betyds kan uitkom. Ja, ek weet, ek droom! So amper tien jaar gelede, toe ek nog ‘n ‘groenetjie’ was in Londen, het ek die ding, daai ‘tube train’ of moltrein (in suiwer Afrkaans) vir kort afstande gery – diep onder die aarde, tussen Embankment en Charing Cross!

Nou ek het so bakgat in die diep donkerte gery vir ‘n paar weke – lekker gedog ek het Londen goed in die hande beet, en ek was nou in my kop ‘n ‘seasoned world traveller’ – toe ‘n vriend vir my mooitjies eenkant toe roep en in my oor fluister. Ons staan toe daar by die Pizza Express op die Strand en hy wys vir my: ‘Kyk hier, daar is Embankment en daar is Charing Cross, binne ‘n kort twee minute loopafstand!”. Ek hol toe daar weg, bloedrooi van skaamte! Ons lees mos nie landkaarte nie.

Ons funksioneer op ‘landmarks’ — ‘daar oor die bult’, ‘net links verby Waterstones, sal jy ‘n bedelaar sien — hy staan altyd daar —nou loop net so vyftig meter van hom afweg, dan kyk regs oorkant die pad, dan sal jy sien daar is ‘n winkeltjie wat allerhande tydskrifte verkoop. Nou net so drie deure duskant van daai winkeltjie is die ‘insolvency’ besigheid. Hulle is baie vriendelik daar. Die plek is mooi weggesteek. Moenie worrie nie. Niemand sal jou sien nie.’

Nou, ja, dis die ander ding van Londen — blerrie skuld!